Veld van die Sterre

Toe Wolf Liebenberg gedurende 2004 vir my noem dat daar n wandelpad in Spanje is wat hy eendag wil gaan stap, het ek nie in my wildste drome gedink dat Wolf, ek en my seun Charl hierdie einste roete eendag met n fiets sou aanpak nie.

Die pelgrimstog na Santiago de Compostella bestaan reeds eeue lank. Die eerste Christelike Pelgrims wat amptelik opgeteken is het in die jaar 950 begin stap.  Dit is nog presies dieselfde pad wat Sint Franciskus van Assisi in 1214 gestap het oor ou Romeinse paaie en bruê, en dit lei die  pelgrim uiteindelik na die oorskot van die apostel Jakobus, wat in die katedraal in Santiago de Compostella begrawe is.  “Santiago” is Spaans vir Sint Jakobus en “Compostella” beteken “begraafplaas” of “veld van die sterre.”  Die roete volg die Melkweg en die pelgrims van ouds het snags die helder sterre gevolg om die pad te vind. Deesdae stap meer as 60 000 mense jaarliks die pad.

Die roete gaan deur n groot deel van Noord-Spanje vir ongeveer 820 km.  Op 19 Oktober 2006 het ek en Charl vir Wolf in Parys  in Frankryk gekry vanwaar ons per trein na n klein dorpie met die naam van St. Jean Pied-de-Port gereis het. Hier het ons ons pelgrims paspoorte gekry. Hierdie paspoorte gee toegang tot die herberge waar teen n billike tarief oornag word.

Vrydagoggend die 20ste het ons begin stap aan die eerste skof van 27km oor die Pireneë gebergtes.  Alhoewel die wind stormsterk gewaai het en dit reënerig, mistig en koud was met modderpaaie, het  ons dit tog baie geniet, want die natuurskoon was asemrowend mooi.  In die Pireneë is ons toe oor die Spaanse grens.  Ons het min kos by ons gehad, want ons het te laat uitgevind dat  die winkels eers 10 uur die oggend oopmaak.  Dansky  n kg. biltong wat Wolf saamgeneem het, het ons darem oorleef en het ons die dorpie Roncesvalles teen 6 uur die aand bereik.

Ons het fietse gehuur wat vanaf Madrid by Roncesvalles afgelewer was.  Ons het met n skok ontdek dat die fietse sonder pedale was.  Die Spanjaarde is baie behulpsame mense, maar daar was op ons hele roete die probleem  dat hulle gladnie enige ander taal as Spaans kan praat en  verstaan nie.  Na baie gesukkel  het n taxidrywer die pedale vanaf Pamplona  afgelewer en self die pedale ingedraai waarna ons toe ongeveer 2 uur die middag vertrek het op ons fietstog van 790km. Groot gedeeltes van die roete was  bergagtig en ons het eenkeer die fietse vir 13km teen n berg uitgestoot en aan die ander kant 16km afgery sonder om eenkeer te trap.  Charl se topspoed was 72km per uur en ek en Wolf n versigtige 58km per uur.

Die natuurskoon, pragtige dorpies, vriendelike mense en die kameraadskap tussen ons drie het van hierdie rit n onvergeetlike ervaring gemaak.

Die Camino de Santiago is n openbaring.  Vir baie is dit n uitdaging, n toets van volharding  (en verduring) of deel van n geestelike reis.  Mense van alle gelowe kom  saans saam om die pelgrimsmis by te woon.

Daar is pelgrims van reg oor die wereld.  Jy praat gebaretaal in Frans, Duits, Spaans, Engels, Nederlands, Italiaans, Chinees en Afrikaans, maar mense verstaan mekaar.  Daar is n kameraderie onder pelgrims;  almal het dieselfde doel:  om by Santiago uit te kom.

In Santiago het ons elkeen n sertifikaat in Latyn ontvang en alhoewel ons nie weet wat die bewoording beteken nie weet ons wel dat ons die sertifikaat verdien het.

Die meeste mense stap die roete alhoewel sommiges dit ook per fiets of te perd doen.  Ons het net 14 dae tyd gehad en het dit dus per fiets gedoen wat n onvergeetlike ervaring was.  As n mens stap kan dit gemaklik binne 32 dae gedoen word.  Die roete is baie veilig om te stap aangesien daar blykbaar geen misdaad is nie.  Met die fietse het ons soms teerpaaie gery met die nomale risiko van motorverkeer en ons het elke oggend hande gevat en n gebed gedoen vir ons veiligheid op die pad.

Jacobus Liebenberg van Liebco het vir ons pragtige fietsryhemde geskenk.  Die hemde is spesiaal ontwerp en laat maak vir die Camino en ons opregte dank aan hom.  Liebco het ook vir Babbel en Krabbel finansieel ondersteun omdat ons die Camino aangepak het.

Alle eer en dank aan ons Hemelse Vader dat hy ons die gesondheid en vermoë geskenk het om die Camino de Santiago te kon doen.

Flip van Niekerk

November 2006.

About flipfaith

Passionate, Reborn, Spirit-filled follower of Jesus, son of God.
This entry was posted in Pilgrim Route to Santiago de Compostella and tagged , , . Bookmark the permalink.

One Response to Veld van die Sterre

  1. skoonlief says:

    Flip jy was bevoorreg om hierdie staptog mee te maak en te voltooi. Mag die ervaring jou altyd beskerm en behoed in moeilike tye. Isabelle

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s